Ons Geskiedenis

In die gedenkuitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) wat in Desember 2011 verskyn, skryf Pieter Kapp oor die tydskrif se “Vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe” (Kapp 2011:461-471). Hy skets kortliks die ontstaan van die tydskrif aan die hand van die aksentverskuiwing binne die SA Akademie vanaf “wetenskap” as ’n algemene benoeming vir navorsing tot die erkenning van die belangrikheid van geesteswetenskaplike, náás natuurwetenskaplike, navorsing. Pas in 1961 besluit die Akademie om die naam van die Fakulteit Taal, Lettere en Kuns te verander na Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe; terselfdertyd word die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (1936 tot 1960) opgeskort en in 1961 begin “met sy gesaghebbende Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe” (Kapp 2011:463). Kapp wys voorts daarop dat dit vanselfsprekend was, in die lig van die groeiende waardering vir die geesteswetenskappe naas die natuur- en kultuurwetenskappe, dat die TGW “’n besondere plek [sou] beklee om die geesteswetenskappe oor die breedste moontlike front te ondersteun” (Kapp 2011:463).

Sodanige ondersteuning van die geesteswetenskappe is onder opeenvolgende redakteurs van die TGW gehandhaaf: prof. P J Nienaber (1961–1969), prof. Elize Botha (1970–1976), prof. Edith Raidt (1977–2000) en prof. Ina Wolfaardt-Gräbe (2001– ). In ’n era van toenemende kommersialisering van universiteite en die gepaardgaande “tegnokratisering” van kennis, is dit juis in die TGW, onder die bekwame en besielende gasredakteurskap van prof C S (Fanie) de Beer, waar ’n voortgesette en indringende debat oor die aard en relevansie van die geesteswetenskappe in ’n aantal spesiale uitgawes en afdelings vanaf 2012 gerapporteer word. Die groot aantal dissiplines, vanaf filosofie tot politieke wetenskap; of vanaf opvoedkunde tot godsdienswetenskap; of ekonomie tot oudiologie waaroor artikels in die TGW verskyn, bevestig terselfdertyd onafhanklik die relevansie van die geesteswetenskappe – iets wat uiteraard ondersteun word deur die voortgesette bydraes van outeurs en gasredakteurs of die kritiese insette van kundige lesers op ’n verskeidenheid spesialisgebiede; benewens bydraes deur gevestigde navorsers is daar ook opkomende akademici, wat, dikwels in samewerking met ’n studieleier of promoter, nuwe navorsing bekend stel.

Gegee die toenemende druk op Afrikaans as wetenskapstaal, is dit ook in die TGW waar sake soos die belangrikheid van moedertaalonderrig, of die waarde van meertaligheid in tersiêre inrigtings beredeneer word. Trouens, die waarde van die TGW in die ondersteuning en uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal word op verskeie vlakke waarneembaar: enersyds in artikels oor die Afrikaanse taalkunde en letterkunde, maar andersyds juis in die beoefening van navorsing oor ’n verskeidenheid dissiplines in Afrikaans. Dat daar, ten spyte van die heersende taalbeleid ook aan voorheen Afrikaanstalige universiteite, steeds baie navorsers is wat van hulle beste werk óók in Afrikaans lewer, blyk uit die groei van die TGW oor die afgelope paar jaar. Dit blyk ook uit die feit dat outeurs wat in die TGW publiseer gereeld onder die wenners van die SA Akademie/ATKV-pryse tel, waar meegeding word met alle artikels oor die geesteswetenskappe wat binne ’n sekere tydperk in Afrikaans in enige vaktydskrif gepubliseer is. Laastens word die gehalte van die artikels duidelik wanneer die redaksiekomitee jaarliks moet besin oor welke outeur met die Esther-Greeffprys vir die beste artikel in die TGW beloon moet word.

Sodanige plaaslike erkenning vir geesteswetenskaplike navorsing in Afrikaans word ook internasionaal belig. Sedert Maart 2009 word die TGW geïndekseer in byvoorbeeld Scopus (Elzevier) en die Social Sciences Citation Index (Tompson Reuters). Hierbenewens is die TGW op versoek van die sekretariaat van die NSEF (National Scholarly Editors’ Forum) vanaf 2009 op die SciELO-webwerf geplaas – een van ’n beperkte aantal nasionaal geakkrediteerde tydskrifte wat hiervoor in aanmerking kon kom. Alhoewel die TGW vier keer per jaar (Maart, Junie, September en Desember) in druk verskyn, is dit dus ook beskikbaar as ’n ooptoegang digitale publikasie wat gratis aflaaibaar is vanaf die SciELO platform. Internasionale sigbaarheid word verhoog deurdat gelyktydige tolking van die Afrikaanse pdf in meer as 20 verskillende tale beluister kan word.