Voorskrifte aan skrywers

Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe word gewy aan die publikasie van oorspronklike navorsings- en oorsigartikels in Afrikaans. Artikels of bydraes wat elders verskyn het, sal nie vir publikasie oorweeg word nie. Twee eksemplare van die uitgawe waarin ’n bydrae verskyn, sal gratis aan die outeur verskaf word. Indien meer eksemplare verlang word, kan dit van die Akademiekantoor bestel word teen die heersende prys.

Die volgende voorskrifte geld vir voorgelegde manuskripte:

  • Stuur verkieslik ’n elektroniese kopie aan publikasies@akademie.co.za. Manuskripte moet in dubbelspasiëring getik word met Arial 12-punt skrifgrootte en ’n 25 mm linkerkantlyn.
  • Die manuskripte moet persgereed en taalversorg wees. Skrywers moet skriftelik bewys lewer dat die artikel deur ’n erkende taalversorger geredigeer is.
  • Bydraes moet in Afrikaans geskryf wees en beperk wees tot 6 000 tot 8000 woorde.
  • Bydraes moet vergesel gaan van ’n kort curriculum vitae, in paragraafvorm, in Afrikaans en Engels (100–200 woorde) en foto van die outeur(s) in JPEG-formaat.
  • Dit moet vergesel gaan van ’n opsomming van 100-250 woorde in Afrikaans, Nederlands of Duits, plus ’n opsomming van 600-1000 woorde in Engels. Die opsomming word begin met die vertaling van die titel.
  • Outeurs moet ’n lys van 10-20 trefwoorde in Afrikaans en Engels aanbied net na die opsomming.
  • Illustrasies of tekeninge moet van toepaslike onderskrifte voorsien wees en moet ten opsigte van grootte rekening hou met die formaat van die Tydskrif.

Opskrifte in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe lyk soos volg:
1. HOOFOPSKRIFTE verskyn in hoofletters en is vetgedruk. Daar is ’n spasie tussen die hoofopskrif en die teks.

1.1 Opskrifte is in kleinletters en vetgedruk; daar is ’n spasie tussen die opskrif en die teks.

1.1.1 Subopskrifte is kursief; daar is ’n spasie tussen die opskrif en die teks.
Opskrifte mag genommer word indien verkies. Daar is geen punte na opskrifte nie.

Opskrifte by tabelle lyk soos volg:
TABEL 2: Ekonomiese ontwikkeling volgens rassegroep Onderskrifte by figure lyk soos volg:
Figuur 3: Sistemiese interafhanklikhede in mensstrewes: die waardestruktuur. Plaas asseblief tabelle en figure in die korrekte posisie binne die teks.

  • Aanhalings word nie kursief gedruk nie, ook nie as hulle in ander tale is nie. Aanhalings wat langer as drie reëls is, word geïndenteer en het nie aanhalingstekens nie. Enige invoegsel binne ’n aanhaling staan tussen blokhakies. Raadpleeg die Tydskrif vir voorbeelde.
  • Afkortings moet sover moontlik vermy word.
  • Korreksies: Ekstra korreksies moet deur die skrywer betaal word.
  • Literatuurverwysings word volgens die verkorte Harvardmetode gedoen, met uitsondering van bepaalde vakgebiede.

Voorbeelde:
Boek: Olivier, D.V. 1996. Die nag van die vlieë. Kaapstad: Blackwell.
Tydskrifartikel: Van Wyk, B. 1993. Vesel voorkom hartsiektes. SA Tydskrif vir Dieetkunde, 19(3):56-59.
Hoofstuk in ’n boek: Elphick, R. & Malherbe, V.C. 1989. In Elphick & Giliomee (eds). The shaping of South African society 1652 – 1840. Cape Town: Maskew Miller Longman, pp. 20-34.

Internetbron:
Gries, H.B. 1996. Experimental learning. Education online, 21(1). http://www.edu.learning.html [14 Oktober 2004].

Of in Afrikaans:
Mc Farlane, L.R. 2004. Afrikaans en die media. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, http://www.akademie.co.za [14 Oktober 2004].
Indien die bron Afrikaans is, is al die bibliografiese inligting in Afrikaans, of andersom in Engels.

Bronverwysings in die teks:
Volgens Swan (1996:45) …
OF: …(Swan 1996:45) …
OF: …(Swan 1996:45). (aan die einde van ’n sin)

Bladgeld:
Die Tydskrif hef R300 per gedrukte bladsy (+BTW) om die publikasiekoste van artikels te help delg. Dit is die verantwoordelikheid van die outeur om by sy/haar navorsingsinstansie aansoek te doen vir bladgeld. Die Tydskrif is ’n goedgekeurde publikasie wat betref subsidie aan universiteite en navorsingsuitsette.

Kopiereg:
Outeurs behou kopiereg van artikels en ander bydraes.

Verantwoordelikheid vir handskrifte, illustrasies en diskette:
Hoewel die Redaksie uiteraard alle sorg betrag by die hantering van manuskripte, foto’s en tekeninge vir illustrasies, ensovoorts, kan onder geen omstandighede verantwoordelikheid aanvaar word vir enige verlies of skade wat in dié verband mag plaasvind nie. Indien outeurs materiaal wil terughê, moet hulle tesame met die toesending van materiaal die Redaksie hiervan verwittig.